As jy jou boerdery ernstig opneem, weet jy reeds dat 'n bul meer is as net spier en stamboom; hy is die draer van jou kudde se toekoms. En wanneer jy met Bonsmara teel, boer jy nie sommer lukraak nie. Jy boer binne een van die mees sistematiese, deursigtige en streng toegepaste stelsels ter wêreld: die Bonsmara-stelsel.
Waar dit alles begin het
Die Bonsmara-ras het nie toevallig ontstaan nie. Onder leiding van professor Jan Bonsma het wetenskaplikes tussen 1937 en 1963 die ras doelbewus ontwikkel by die Mara navorsingsstasies. Deur kruisteling van Afrikaner-beeste met Hereford en Shorthorn het hulle 'n beesras geskep wat spesifiek aangepas is vir Suid-Afrikaanse omstandighede, met wetenskaplike data as fondament, nie spekulasie nie.
Wat die stelsel behels
Die Bonsmara-stelsel is uniek in sy strengheid én in sy geloofwaardigheid. Elke dier wat as stoet geregistreer word, moet ‘n reeks prestasietoetse en visuele keuring slaag. Dit sluit in:
- Fase A: Geboorte- en speengewigte van kalwers sowel as hul moeders word aangeteken
- Fase B: Opvolgmetings van veral verse op 12 en 18 maande, waarna indekse amptelik deur SA Stamboek bereken word. Bulle kan ook ‘n Fase B toets ondergaan
- Fase C/D: Diere gaan deur sentrale of plaasgroeitoets, waar hul daaglikse groeigemiddeldes en voeromsettingsvermoë geëvalueer word. Toetse word deur SA Stamboek afgesluit, liggaamsmates word geneem en amptelike indekse word dan bereken.
- Keuring: Diere met swak indekse of strukturele gebreke word uitgeskakel. Slegs topdiere word vir stoettoepassing goedgekeur.
By Bonzo Bonsmaras hou ons onwrikbaar by hierdie protokol. Elke vers en bul in ons stoet het die toets van die stelsel geslaag, want dit is wat ware genetiese vordering dryf.
Die rol van keurders: Oë en ore in die veld
Die keuringsproses is nie 'n afmerk-aktiwiteit nie, dis 'n kundige evaluasie wat bepaal of ‘n dier die potensiaal het om die ras te bevorder. Mark McIntyre, eienaar van Bonzo Bonsmaras, is self ‘n senior keurder by die Bonsmara Beestelersgenootskap. Dit beteken hy is nie net 'n deelnemer in die stelsel nie, maar dra aktief by tot die beskerming van rasstandaarde. Hierdie praktyk van keurderskap “deur boere vir boere” waarborg integriteit en praktiese kundigheid.
Hoekom die stelsel werk
Die Bonsmara-stelsel werk omdat dit fokus op meetbare, ekonomies belangrike eienskappe: vrugbaarheid, aanpasbaarheid, melkproduksie, groei en karkaskwaliteit. En dit is nie net ‘n bewering nie, Bonsmara-bulle en -verse presteer in beide veld- én voerkrale, met min kalwings probleme, hoë speengewigte, goeie voer omsetverhoudings asook uitsonderlike temperamente.
’n Kudde wat vir jou boer
Wanneer jy ’n bul by Bonzo Bonsmaras koop, koop jy nie net 'n dier nie. Jy koop:
- Verifiëerbare genetika: Beide die moeder en die vader word deur middel van DNA toesting bevestig.
- Keuringsversekerings: Alle diere ondergaan amptelike prestasie toetsing. Kopers se bulle word eerstens deur Mark McIntyre self gekeur, waarna minstens nog twee keer deur senior keurders.
- Stelselsteun: ’n dier wat in lyn met die Bonsmara SA-ras standaarde is.
Vir kommersiële boere veral is die Bonsmara-stelsel 'n vennoot in winsgewendheid. Jy hoef nie op giswerk staat te maak nie. Jy koop beeste wat bewys het dat hulle presteer. Jy kry genetika wat werk, op die veld, in die voerkraal, én op jou balansstaat.
By Bonzo Bonsmaras glo ons in die stelsel, leef ons die stelsel, en verbeter ons deur die stelsel. Dis hoe jy 'n stoet bou waarop jy met trots jou merk sit.