Skip to Content

Die belang van beplanning in ’n Bonsmara-Boerdery

December 14, 2025 by
Die belang van beplanning in ’n Bonsmara-Boerdery
Bonzo Bonsmaras

By Bonzo Bonsmara glo ons dat beplanning nie iets is wat net op papier gebeur nie. Ons sien dit as die dryfkrag van ’n produktiewe, volhoubare kudde. Elke besluit, van parings tot speentyd asook weidingsbestuuur, vorm deel van ’n groter, jaarlikse ritme. Wanneer die regte prosesse betyds in plek is sien ’n mens die resultate duidelik in bulprestasie, koeikondisie en kalfgroei deur die seisoene heen.


Beplanning vir ons jaarlikse produksieveiling


Ons jaar word grootliks ingedeel volgens die datum van ons produksieveiling, en dit beteken die voorbereiding vir die veiling begin ses tot sewe maande vroeër.


Om dit reg te kry, verg streng bestuur: ’n voedingsplan wat aangepas word volgens weidingskwaliteit, gereelde kondisietellings, parasietbeheer en deurlopende evaluering van groei. Dit is nie iets wat in die laaste paar weke opgemaak kan word nie; dit is die gevolg van sistematiese beplanning, maand ná maand.


Bestuur wat werk: Sperdatums, witborde & aangeplante weiding


Een van ons grootste sterkpunte is konsekwente, sigbare bestuur. Die witbord in die kantoor is nie versiering nie, dit is die hart van die beplanningsproses. Elke sperdatum, van inenting tot begin en einde van dekseisoen en selfs speentyd word daar aangedui en gereeld opgedateer. Wanneer ’n boerdery weet presies wat móét wanneer gedoen word, trek die hele kudde voordeel.


Selfs die aanplant van weidings word nie aan toeval oorgelaat nie. Die nuutste aangeplante blokke is reeds uit, sodat ons seker is ons het goeie, voedsame voer vir die beeste wanneer hulle dit die nodigste het. Dit is weer eens beplanning wat ver vooruit begin en die kudde se sukses dra deur seisoene van wisselende veldkwaliteit.


Speenbestuur wat kondisie beskerm


Beplanning raak ook die belangrike besluit oor wanneer kalwers gespeen moet word. Speen te laat en plaas druk op die koei; sy verloor kondisie, haar herstel neem langer en haar kans op konsepsie binne die volgende dekseisoen daal. Speen betyds, volgens die koeie se kondisie en veldstatus, en die koeie bly sterk en gesond. ’n Koei in goeie kondisie gee elke jaar ’n kwaliteit kalf, en dít is immers die spil waarom volhoubare beesboerdery draai.


Wintervoer: Wanneer goeie besluite ’n groot verskil maak


Die winter is dikwels die toets vir enige kudde. Daarom word beplanning vir aanvullings en winterlek lank voor die koue begin, gedoen. Ons besluit betyds wanneer om byvoeding te begin; dit voorkom gewigsverlies en help om die kudde se algehele prestasie deur die moeiliker maande te handhaaf. Die regte voedingskeuses op die regte tyd hou beide koeie en groeiende diere op koers.


Die Bonzo Bonsmara benadering


Uiteindelik kom dit alles neer op een beginsel: ’n goed beplande boerdery is ’n doeltreffende boerdery. Wanneer jy vooruit dink, vooruit beplan en vooruit bestuur, word risiko’s kleiner en resultate groter. By Bonzo Bonsmaras bou ons jaar ná jaar op hierdie beplanningskultuur wat die kudde se gesondheid, genetiese vooruitgang en winsgewendheid eerste stel. Beplanning is nie net wat ons doen nie; dit is waarom ons elke seisoen vooruit boer.

Share this post
Tags
Archive